Vernietig die Mites
rakende jou Dood
DIE REALITEIT VAN DIE DOOD IS DIKWELS MEER INGEWIKKELD EN ERNSTIGER AS WAT MEESTE MENSE BESEF.
Volgens 2017 statistieke van die Meester van die Hooggeregshof, sterf meer as 70% van mense sonder ‘n Testament of ‘n geldige Testament!
Elke persoon behoort ‘n Testament te hê wat aandui hoe sy bates aangewend moet word na afsterwe. Baie mense kies om die nodigheid van die opstel van ‘n Testament te ignoreer, omdat dit vir hul onaangenaam is om aan hul eie dood, of die dood van hul geliefdes te dink.
In die afwesigheid van ‘n geldige Testament, bepaal Wetgewing wie die erfgename van jou bates is en daar is niks wat kan verhoed dat ander die voordeel uit jou boedel trek nie. Die ergste scenario is dat jou eks-vrou / man, van wie jy al 12 jaar geskei is, opeindig met al jou bates omdat jy nooit jou Testament hersien het nie!
MITE 1: ONS IS GETROUD VOLGENS DIE GEMENEREG (BLY SAAM OF HET LOBOLA BETAAL), SO EK SAL BY MY EGGENOOT ERF
- Indien ‘n paartjie saam bly, al was dit vir ‘n aansienlike lang tydperk, word hulle nie as wettig getroud beskou nie.
- Daar bestaan nie ‘n GEMENEREG EGGENOOT in Suid-Afrika nie. Indien een van die partye tot sterwe kom sonder ‘n Testament, sal die ander party nie beskou word as ‘n eggenoot in terme van die Intestate Erfreg nie.
MITE 2: EK IS GESOND EN HET NOG DEKADES OM TE LEWE, DAAROM BEKOMMER EK MYSELF NIE OOR ‘N TESTAMENT NIE
- Die realiteit is dat jy enige tyd kan doodgaan, ongeag jou ouderdom of gesondheid.
- Dit is eenvoudig onverantwoordelik om nie ‘n geldige Testament te hê nie.
- Oorweeg dit baie ernstig om ‘n voog aan te stel vir jou minderjarige kind(ers), indien beide ouers sterf.
- Die genomineerde voog in die Testament word as ‘n Wetlike aanstelling beskou, daarom is dit van die uiterste belang dat die voogskap vooraf met die genomineerde persone bespreek moet word.
MITE 3: DIE GELD WAT MY KINDERS BENODIG, SAL AAN HULLE VOORSIEN WORD
- In terme van die Wet op Intestate Erfopvolging, sal die grootse gedeelte van R250 000-00, of ‘n kind se gedeelte, aan die oorlewende eggenoot betaal word.
- Indien die boedel minder as R250 000-00 is en daar kinders uit ‘n vorige huwelik is, sal geen betaling aan die kinders gemaak word nie, maar die volle erflating sal aan die eggenoot uitbetaal word.
- Net so kwalifiseer pleegsorg kinders nie as Erfgename van die Pleegouers se boedel, indien dit intestaat is nie.
- Enige voordeel wat die minderjarige kind toeval sal gelikwideer word en in die Voogdyskap Fonds gehou word totdat die kind mondig is, wat tans die ouderdom van 18 jaar is – DIT IS IETS WAT JY NIE WIL HÊ MOET GEBEUR NIE!!!
MITE 4: DAAR SAL NA MY OUERS OMGESIEN WORD
- Net soos in die geval van kinders, word die wettige eggenoot se belange eerste gestel.
- Slegs biologiese, of wettige aanneemouers, en nie pleegouers nie, word erken deur die Wet.
MITE 5: DIE GELD SAL BETAAL WORD AAN WIE EK WIL HÊ DIT MOET KRY
- Die verdeling van ‘n Boedel sonder ‘n Testament word baie streng beheer volgens die Wet op Intestate Erfopvolging.
- Die uiteindelike resultaat is dat onbekende-, vreemde- of mense waarvan jy dalk nie hou nie, van jou kan erf.
Die bogenoemde mites is nie alles omvattend nie, maar dien meer as ‘n herinnering daaraan dat dit uiters noodsaaklik is om ‘n geldige Testament te hê.
Jy kan ons kantoor skakel indien jy enige hulp nodig het ten einde ‘n geldige Testament op te stel.














